“Communication is to relationships what breath is to life” – Virginia Satir

Seksualiteit na swangerskap en geboorte

Vanoggend het jy vir die soveelste keer gedink jy het jou wekker verkeerd gestel toe dit skril in jou ore skree. Dit was dan minute gelede dat julle eindelik tot ruste gekom het. Die arme baba kry tande, maar toe jy weer eens in die nag moes opstaan om haar te sus, het moordgedagtes deur jou kop geflits. Want al wat jy wil hê, is ‘n paar uur se ononderbroke slaap. Toe jy teen tienuur jou man se e-pos in jou inbus kry, weet jy nie of jy moet lag of huil nie. Want gisternag toe jy die pajamadril gedoen het, het hy lê en slaap. Nou het hy die vermetelheid om met allerlei suggestiewe idees na vore te kom! Wanneer gaan hy besef jy’s moeg?

Ja, ‘n nuwe baba of klein kindertjies in die huis is beslis nie goeie nuus vir enigiemand se sekslewe nie. Dit gebeur ook dikwels dat die vrou sukkel om al die spreekwoordelike balle, van al haar verskillende rolle, in die lug te hou. Sy het verskeie rolle om te vertolk (beroepsvrou, ma, tuisteskepper, vrou en minnares) en dit is dikwels baie moeilik om van die een rol na die volgende oor te skakel.

Dikwels is die vrou bloot te moeg vir seks, of sy sien dit as net nog een van die twintig dinge wat sy vandag agter die rug moet kry. Seks word dan ‘n plig en is nie meer ‘n plesier nie.

Beplanning is die wagwoord
Kinders moet van vroeg af leer dat ma en pa alleentyd saam nodig het. Sluit jou kamerdeur as jy bang is die kinders gaan julle betrap. Sorg dat hulle veilig en versorg is (sit hulle gunsteling-DVD aan) – dit het al menige egpaar se sekslewe gered! Dit is belangrik om die vonk in jou sekslewe te behou en dit verg beplanning. Stuur die kinders soms na hulle ouma toe, of reël ‘n betroubare kinderoppasser, en gaan eet saam uit of gaan slaap ‘n aand in ‘n hotel. Onthou, kinders moet ook onafhanklikheid aanleer en besef dat julle kan weggaan, maar altyd weer terugkom.

Beplan ook ‘n daaglikse “konneksie-sessie” met mekaar waar julle sonder onderbreking bymekaar kan uitkom en julle daaglikse lewe en ondervindinge kan deel.

Kom uit die liefdesgroef
‘n Mens se huwelik kan maklik in ‘n groef verval. Dit gebeur veral as die fisieke en emosionele intimiteit in die huwelik nie meer is wat dit moet wees nie. Julle leef dus bymekaar verby en kommunikeer net oor die kinders en die huishouding, en nie oor wat regtig in julle harte aangaan nie. Die enigste manier om te voorkom dat julle huwelik in ‘n groef beland, is om te sorg dat julle genoeg kwaliteittyd saam deurbring. Fokus op sensualiteit en ook op seksuele alternatiewe soos gesamentlike masturbasie.

Wat nuwe ouers moet onthou
• Babas en kleuters hoort nie in ma of pa se bed nie. Bababottels en
kinderspeelgoed hoort ook nie in julle slaapkamer nie. Dit is belangrik dat julle
slaapkamer ‘n sensuele en rustige atmosfeer sal skep.
• ‘n Nuwe baba verg enorme aanpassing. Gun jou liggaam en ook die verhouding tyd om aan te pas, maar waak daarteen om nie mekaar af te skeep nie. Fokus doelbewus daarop om pa ook deel van die daaglikse versorging van die baba te maak, anders kan hy maklik uitgesluit voel.
• Gun julleself soms ‘n blaaskans. Moenie skuldig of bekommerd voel as seks die laaste ding in jou gedagtes is nie. Nuwe ma’s kan vind dat borsvoeding, die aanpassing by ‘n nuwe roetine, min slaap en hormonale wanbalanse na swangerskap, haar seksdrang kan laat afneem. Dit is normaal. Dit neem na ‘n swangerskap ‘n geruime tyd (tot 12 maande) vir jou hormoonvlakke om te stabiliseer. Wees dus sensitief vir mekaar se behoeftes en respekteer dit. Fokus eerder op intimiteit en sensuele nabyheid.
• Beplan vir seks. Dit is belangrik om nou goed te beplan en julle tyd sinvol te
gebruik. Afwagting kan net so stimulerend wees as iets wat spontaan gebeur. Beplan rondom julle baba se roetine.
• Kry hulp. Aanvaar die goedbedoelde hulp van familie en vriende. Oorweeg soms wegneemetes, kry hulp vir daaglikse huiswerktake en betaal rekeninge met behulp van die internet. Onthou ook dit is nie die einde van die wêreld as jou huis nie honderd persent netjies en aan die kant is nie. Deur al hierdie dinge, spaar julle energie en is daar meer tyd om saam deur te bring.
• Respekteer julle gesondheid. Eers wanneer julle weer genoeg slaap inkry, sal julle seksdrang weer na normaal terugkeer. Eet gesond en doen matige oefening (al gaan stap jy net met die baba om die blok).
• Ontspan, wees goed vir jouself en jou maat. Masseer jou moeë maat se voete of skouers of neem saam ‘n lekker ontspannende borrelbad. Wanneer ‘n man soms ‘n voeding in die nag waarneem (ja, borsvoeding is nie ‘n verskoning nie, melk kan uitgepomp word), sal hy sekerlik ‘n baie dankbare en meer energieke vrou in die oggend hê.
• Wees geduldig. ‘n Vrou se liggaam keer nie onmiddellik ná kindergeboorte terug na normaal nie en vaginale penetrasie kan vir ‘n geruime tyd ongemaklik of selfs pynlik wees. Vaginale droogheid is ook dikwels ‘n probleem. Sorg dus dat julle ‘n goeie smeermiddel byderhand het.
• Doen gereeld Kegeloefeninge om die bekkenvloerspiere weer te versterk.

Elmari specialises in the following:
  • Sexology
  • Individual Psychotherapy
  • Clinical Hypnotherapy
  • Sex therapy
  • Couples Therapy
  • Relationship/Marital Enrichment
  • Pre-marital Counselling
  • Conflict Resolution and Effective Communication Skills
  • Divorce Counselling
  • Trauma Counselling

 
The diagnoses and treatment of male and female sexual dysfunction, eg
  • Loss of sexual desire
  • Libido differences
  • Sexual Pain Disorders:
    Vaginismus,
    Dyspareunia,
    Vulvadinia ext
  • Inability to reach orgasm
  • Erectile dysfunction
  • Ejaculation control and timing
  • Sexual behaviour disorders
  • General Sexual Problems
  • Sexual Enrichment
CV