“Communication is to relationships what breath is to life” – Virginia Satir

Sewe ‘sondes’ wat jou huwelik ʼn hupstoot kan gee!

Wanneer jy eers ʼn ring aan jou vinger het, is daar baie ‘deal breakers’ waaroor mense jou maan. Jy moet probeer om nie die aantreklike kelnerin raak te sien nie en jy moet jou maat voor slaaptyd vergewe dat hy julle herdenking vergeet het. Maar saam met ʼn vebonde verhouding kom daar ook ‘n lys van sondes wat jy wel mág pleeg…

Baie mans beweer grappenderwys dat hulle al hul vryheid moes prysgee die dag toe hulle in die huwelikstrik getrap het. Dat daar nou soveel ‘moenies’ en baie min ‘mags’ is. Jy sal miskien verlig wees om te hoor dat jy baie ‘sondes’ kan aanwend om ‘n positiewe bydrae in jou huwelik te lewer.

Vroeër jare is die ‘sewe dodelike sondes’ of kardinale sondes in Christen-leringe gebruik om mense in te lig oor ons geneigdheid om te sondig. Die Rooms-Katolieke kerk het sonde in twee hoof kategorieë verdeel, naamlik: Vergeeflike sondes en Sterflike sondes. Teen die begin van die 14e eeu het die sewe dodelike sondes: wellus (of begeerte), gulsigheid, gretigheid (na aardse besittings), luiheid, toornigheid, afguns en trots ʼn gewilde tema onder Europese kunstenaars geword. En alhoewel jy steeds vandag moet sterk staan daarteen om die hele Sjokoladekoek te verorber of om summier jou kredietkaart te swipe vir ‘n paar uitspattige, ongeoorloofde rooi skoene, kan jy hierdie sondes vandag só in jou verhouding toepas dat dit julle verhouding opbou:

Wellus:
Jy mag miskien nie die prikkelpop wat vir jou kos in die restaurant aandrae begeer nie, maar jy het 100% toestemming om jou eie vrou te begeer! Van die môre tot die aand. Carl Fuglein skryf: “Wellus, is wat jou in die moeilikheid kry wanneer dit met iemand is wat nié jou ‘partner’ is nie.” Dit is normaal en gesond om jou lewensmaat te begeer. Dit beteken dat hy vir jou onweerstaanbaar lyk – boepie en al. En dat jy vir hom sexy bly, selfs al lyk jou borste in ‘n opstootbra nie eens naastenby soos wat dit twintig jaar gelede sónder ‘n bra, gelyk het nie!

Wellus word dikwels ook in ʼn verhouding as negatief beskou. Seksuele vervulling en plesier is egter ‘n broodnodige element van ‘n gesonde verhouding. Dit beteken dat ons maar mag vrede maak met ons God-gegewe sekualiteit en seksuele drange. Binne die verhouding is enigeiets aanvaarbaar ten opsigte van die seksuele mits julle albei daartoe toestem en gemaklik is daarmee. Ons kan dus regtig fokus daarop om die ‘wellus’ meer te laat groei en gedy deur ons sekslewe meer opwindend te maak. Einltik wil ons net weet dat ons maat ons begeer! Eet is ‘n baie senuele en sensoriese ervaring. Gebruik dit tot voordeel van jou sekslewe. Doen moeite om gereeld ‘n romantiese kersligete met jou maat te hê, waar julle diep in mekaar se oë kan kyk en regtig op hartsvlak kan kommunikeer. Konsentreer op die tipe kos wat julle eet, die tekstuur en smaak en ‘n hele nuwe sensuele ervaring sal vir jou oopgaan.

Gulsigheid: “Om maaltye te deel, was nog altyd ʼn belangrike hofmaakritueel en ʼn metafoor vir liefde,” skryf Kate Murphy in die New York Times. Om saam te eet by kerslig is romanties. Om mekaar te voer is intiem. Mans sê dikwels dat daar min dinge so aantreklik is soos ‘n vrou wat haar kos geniet. Om jouself soms oor te gee aan lekker kos en dit met jou maat te deel, kan ʼn baie sensuele ervaring wees. So, hou op skuldig voel oor die vyfgangmaaltyd wat julle op Valentynsdag geniet het , of oor die bak roomys wat julle saam in die bed verorber. Maak saam kos en vier die lewe, maar hou dit ʼn uitsondering eerder as ‘n reël – sodoende sal hierdie spesiale tye net soveel meer onvergeetlik wees!

Gretigheid:
Jy mag nooit jou rykdom aan aardse besittings meet nie, maar jy mág maar skimp vir daardie Pandora armband … Gary Chapman skryf in sy boek ‘Die Vyf Tale van die Liefde’: “As jou huweliksmaat se primêre liefdestaal geskenke is, kan jy geskenke in oorvloed gee.” Dit is in werklikheid een van die maklikste liefdestale wat daar is. Dit sal miskien beteken dat jy jou houding teenoor geld moet verander. Terwyl aardse besittings nooit gebruik mag word as die enigste middel om jul liefde aan mekaar te bewys nie, is dit soms ʼn goeie manier om jou maat te wys dat hy of sy regtig vir jou kosbaar is en dat jy nie te suinig is om hom of haar van tyd tot tyd te bederf nie! Gretigheid kan ook vertaal word dat ons maar mag gretig wees om aan mekaar se behoeftes te voldoen. Klein blykies van waardering, al is dit ‘n veldblommetjie wat jy pluk kan die wêreld se verskil maak in die feit dat jou maak weet jy het aan hom of haar gedink.

Luiheid: Om naweek na naweek woordeloos voor die televisie te lê en niks te doen nie, is allermins romanties. Maar daar is niks fout daarmee om een keer per maand die kinders na jou ma-hulle toe te stuur en ʼn luilekker naweek saam met jou maat agter geslote deure deur te bring nie. Werk en ander sosiale verpligtinge kan soms soveel kosbare verhoudingstyd roof. Soms is dit nodig is om jou selfoon en tablet af te skakel en net saam met jou maat in die oomblik te wéés, sonder enige ‘moet-doen-lysies’ in jou agterkop. Ek sou wou dink dat luiheid in die verhouding kan werk as ons sê ons mag maar soms van alles om ons vergeet (die wasgoed en die kas wat nog moet reggepak word) en eerder tyd aan mekaar spandeer. Soms is dit wonderlik om net stil bymekaar te wees – mens hoef nie altyd iets te DOEN nie! Wees net! Aan die anderkant moet ons ook weet dat om jou verhouding gesond te hou, harde werk kan wees. Mens moet moeite doen om tyd aanmekaar te spandeer.

Toornigheid: Om toe te laat dat jou humeur sonder meer opvlam en buite beheer raak, is verkeerd. Maar konflik binne ʼn verhouding is normaal en nodig. “Verhoudingskonflik kan die uitdaging wees wat ons help om in meer volwasse mense te ontwikkel. Maar dit kan ‘n verhouding ook vernietig. Dit is normaal en goed om soms te verskil. ‘n Slim paartjie weet hoe om konflik te hanteer en die vlam van irritasie te blus voor dit ‘n onbeheerbare vuur word. Konflik is gesond en nodig, maar dit gaan oor hóé ons baklei. Maak seker dat julle jul konflikhanteringsvaardighede opskerp en onthou jy doen nie jou maat of verhouding ‘n guns deur ‘die minste te wees’ en stil te bly nie. Leer om te sê hoe jy voel en na jou maat te luister. Jy hoef iemand nie 100% te verstaan om hom of haar 100% lief te hê nie. Wees ook jaloers op julle alleentyd.

Afguns: Jaloesie binne ‘n verhouding is selde gesond. Wat wel nie skade kan doen nie, is om jou maat se goeie eienskappe raak te sien en jouself na gelang daarvan te probeer verbeter. As hy byvoorbeeld baie geduldig is, is daar niks mee fout om afgunstig te wees op sy geduld nie. Solank jy hierdie emosie positief probeer gebruik deur sy voorbeeld na te streef.

Trots: Moet nooit te trots wees om teenoor jou maat te erken wanneer jy ‘n fout gemaak het nie, maar wees wel trots op jou maat en jou verhouding.

Dit is altyd goed om die negatiewe te herformuleer in die positiewe. Daarom kan dit baie sinvol wees om hierdie ‘sondes’ op die huwelik van toepassing te maak, daarop te fokus en saam te besluit hoe dit vir julle kan werk en julle verhouding kan versterk. Wat trots aanbetref kan dit gesond wees om so trots te wees op jou maat en jou verhouding dat jy konstant die positiewe raaksien, vir almal (insluitende jou maat) vertel hoe wonderlik hy/sy en jul verhouding is – so word dit net beter en beter.

Elmari specialises in the following:
  • Sexology
  • Individual Psychotherapy
  • Clinical Hypnotherapy
  • Sex therapy
  • Couples Therapy
  • Relationship/Marital Enrichment
  • Pre-marital Counselling
  • Conflict Resolution and Effective Communication Skills
  • Divorce Counselling
  • Trauma Counselling

 
The diagnoses and treatment of male and female sexual dysfunction, eg
  • Loss of sexual desire
  • Libido differences
  • Sexual Pain Disorders:
    Vaginismus,
    Dyspareunia,
    Vulvadinia ext
  • Inability to reach orgasm
  • Erectile dysfunction
  • Ejaculation control and timing
  • Sexual behaviour disorders
  • General Sexual Problems
  • Sexual Enrichment
CV