“Communication is to relationships what breath is to life” – Virginia Satir

Eers die vibrator, toe die stofsuier

Riette Rust

Sedert die publikasie van Fifty Shades of Grey het die verkope van seksspeelgoed drievoudig toegeneem. Maar eintlik strek die geskiedenis van die vibrator al ’n hele 2500 jaar terug.

Die vibrator is ’n goeie hulpmiddel vir daardie ontwykende orgasme.
Dalk het jul bedsake plein vervelig geraak of is jy een van die sowat 70 persent van vroue wat nie orgasme kan kry deur penetrasie alleen nie. Dalk weet jou maat net nie hoe om jou plesierknoppie te hanteer, of selfs waar dit sit nie. Of miskien boots jy gereeld orgasme na met die hoop dat jy jou maat nie sal ontstel nie.
Dis vir sulke kwessies waarvoor die vibrator kan help.
As julle dié hulpmiddel saam gebruik, kan dit vir goeie afwisseling sorg. Só kan julle saam die opwinding in jul sekslewe terugsit, sê Elmari Mulder Craig, seksuoloog van Pretoria. ’n Vibrator kan ook die druk op jou om so gou moontlik orgasme te moet kry, en op jou maat om so lank moontlik te kan aanhou, laat afneem, sê sy.
Dié seksspeelding kan jou ook help om jou lyf op nuwe maniere te ontdek en julle kan makliker gesamentlike orgasmes kry, reken Elmari. As jy nie orgasme met penetrasie alleen kan kry nie, kan julle terselfdertyd ’n vibrator inspan. En siedaar!
Die kinders het dalk onlangs die huis verlaat. Dit gee jou en jou geliefde die geleentheid om mekaar weer van voor af sensueel en seksueel te leer ken. ’n Vibrator kan julle weer in voeling met jul sensualiteit bring en julle selfs tot ongekende seksuele hoogtes aanvuur.
Dit kan ook ’n oplossing bied vir seksuele frustrasie, soos indien jy enkellopend of ’n weduwee is. Daarby is die vibrator die ideale hulpmiddel as jy weens ’n gestremdheid seksueel sukkel.
Dié hulpmiddel speel ongetwyfeld ’n belangrike rol in ons seksuele vervulling. Die veelsydige, gelyktydige stimulasievermoë daarvan is uniek. Indien julle dit reg hanteer, kan niks tegnies meer stimulerend wees nie. Geen penis, vinger, hand of mond kan gelyktydig soveel regkry en so lank aanhou nie, sê seksuoloë.
Sedert die publikasie van E.L. James se roman Fifty Shades of Grey, wat oor sado-masochistiese sekskapperjolle handel, het die verkope van seksspeelgoed drievoudig toegeneem. Suid-Afrikaanse sekswinkeleienaars bevestig dit.
Maar hoekom sou jy ’n seksspeelding wou koop? Want jy het die reg om seksueel bemagtig te wees, jou begeertes te ontdek en jou eie liggaam te geniet, selfs sonder ’n man, sê vervaardigers.
Volgens ’n peiling deur die Universiteit van Indiana in Amerika (NYTimes.com) het sowat 53 persent van vroue wêreldwyd al ’n vibrator gebruik. Tog is daar nog baie Suid-Afrikaners wat voorbehoude het: “Dit gaan goed met ons in die bed, dankie, ons het dit nie nodig nie,” is ’n tipiese reaksie. Of: “’n Vibrator sal my laat voel of daar nóg iemand by ons in die bed is.”
Ander, veral jonger paartjies, reken weer hulle ervaar intense seksuele vervulling daarsonder.
Indien jul sekslewe goed en vervullend is, hoef julle nie ’n vibrator in te span nie, sê Elmari. “Daar is nie ’n resep wat vir almal werk nie. Ons het verskillende behoeftes en voorkeure. Seksuele hulpmiddels is nie ’n vereiste vir goeie of interessante seks nie.”
Daar is mans vir wie die vibrator ’n bedreiging inhou, “want netnou hou sy (my maat/vrou) meer daarvan as van my”, dink hulle.
Dis egter ’n mite dat ’n vibrator ’n liefdesmaat kan vervang, sê Elmari. Dit kan jou byvoorbeeld nie vashou (of ’n band omruil!) nie. Dit is ook nie waar dat jy nie weer orgasme sal kan kry as jy eers ’n vibrator gewoond geraak het nie. Jy kan beslis ook nie daaraan verslaaf raak nie.
“Uiteindelik gaan die liefdespel oor intimiteit, sensualiteit en ’n wedersydse behoeftebevrediging. ’n Vibrator is bloot ’n seksuele hulpmiddel,” reken Elmari. Dis ook nie iets wat julle noodwendig elke keer tydens seks sal gebruik nie.
As jy of jou maat vir die eerste keer met ’n vibrator wil eksperimenteer, gesels eers met mekaar. Vra julself: Is ons albei gemaklik daarmee? Indien nie, hoekom nie? Is daar enige reëls of grense daaraan gekoppel? Albei van julle behoort tot die gebruik daarvan in te stem.
Die voordele van die vibrator – die gewildste seksuele hulpmiddel – kan egter nie misgekyk word nie. Navorsing (prnewswire.com) aan die Berman Center, ’n sentrum vir die seksuele gesondheid van vroue in Chicago, Amerika, wys dat die lewensgehalte van seksspeelgoedgebruikers oor die algemeen beter is as dié van nie-gebruikers: Gebruikers het meer seks en ’n hoër libido. Hulle word ook makliker opgewek, sukkel nie so om orgasme te kry nie, en is minder geneig tot pyn gedurende of ná seks.
Orgasme hou nét soveel voordele in: Dit verskaf nie net intense plesier nie, maar kan ook help vir pynlike kongestie, oftewel stuwing of swelling van die vulva, uterus, eierstokke, asook die bekken-vloerspiere en –ligamente. Orgasme kan boonop slapeloosheid, angs, spanning en hoofpyn help verlig.
Dokters wat vibrators deur al die eeue voorgestaan het, was dus glad nie verkeerd nie ….

Die geskiedenis sedert Hippokrates
Verbasend genoeg, strek die geskiedenis van die vibrator ’n hele 2500 jaar terug.
In 1977 het dr. Rachel Maines, ’n Amerikaanse historikus en skrywer, navorsing oor verskillende soorte naaldwerk gedoen en só op advertensies vir apparate soortgelyk aan die vibrator soos ons dit vandag ken, afgekom. En dít in tydskrifte van 1906, 1910 en 1922. Eers kon sy dit nie glo nie, tog het sy dié inligting opgeteken.
Dit het haar geïnspireer om die geskiedenis van die vibrator na te vors. Só het dr. Maines agtergekom dat dié apparaatjies vir massering van byvoorbeeld die kop en rug gebruik is. Of so het die advertensies voorgestel . . .
Dr. Maines vertel in die dokumentêr Passion and Power: The Technology of Orgasm dat sy ook op hierdie verbysterende feit afgekom het: Dokters het reeds sedert Hippokrates se tyd massering van die vulva in hul werk beskryf. (Hippokrates was ’n beroemde Griekse medikus wat van 460 v.C. tot 370 v.C. geleef en die eed van Hippokrates geïnspireer het. Dis wat dokters steeds aflê.) Dit was toe ’n algemene geloof dat dié soort massering, deur ’n vroedvrou of dokter, vir vroue wat aan histerie ly, kon help. Jy het glo in dié toestand verkeer wanneer jou uterus afgeskeep is en daarom aandag gekort het. (Sien kassie: Wat is histerie?)
Hierdie massering met gegeurde olies het vaardigheid geverg en sowat ’n uur geduur. Die gevolg was nie net euforie nie, maar ook die uitskeiding van vloeistowwe – wat toe as semen of saad soos by ’n man gesien is! – en klein kontraksies. Só is histerie aan bande gelê, is geglo. Maar die oplossing was net tydelik, want kort voor lank was dieselfde vrou weer voor die dokter se deur. Baie geld is so gemaak.
Die kontraksies, wat paroksisme genoem is, het vir dr. Maines baie soos orgasme geklink. Omdat vroue kortasem raak en klink of hulle verstik, het die bekende Griekse filosoof Plato in voor Christelike tye gereken die sametrekkings word veroorsaak deur die uterus wat in die liggaam rondbeweeg – onder meer tot in die bors en lugpyp!
Dr. Maines het die kwessie ondersoek en vasgestel dat enkele kenners (soos dr. Nathaniel Highmore in 1660) die kontraksies inderdaad as orgasme beskryf het. Vroue is dus deur hul dokters of vroedvroue se vingers tot orgasme gestimuleer!

Wat is histerie?
Tussen 1589 en 1655 is die term histerie – ’n soort malheid, oftewel siekte, wat onder vroue ontstaan het weens die afskeping van die uterus – deur verskeie “kenners” beskryf. Een was Lazare Riviere, ’n mediese professor aan die Universiteit van Montpellier, Frankryk. Russell Thacher en John Butler het weer in die laat 19de eeu beraam dat tot drie-kwart van alle vroue “nie gesond” was nie, met ander woorde aan histerie ly.
Simptome van die siekte het ingesluit:
* Jy neem sterk standpunt in en dra dit oor. Die “oproerige” karakter, vertolk deur Maggie Gyllenhaal in die film Hysteria, is so ’n voorbeeld.
* Jy dink nie rasioneel nie en gebruik onkuise taal.
* ’n Gejeuk, ’n gegaap, maagontsteltenis en slapeloosheid kenmerk jou.
* Jy het ’n vae gevoel van styfheid en ongemak in jou buik.
* Jy het seksuele fantasieë.
* Jou vulva is klam.
* Jy lees Franse romans terwyl jy ’n stywe korset dra.
* Jy ry te veel fiets.
* Jy is angstig.
* Jy drink te veel alkohol, koffie of tee.
Vroue se onbevredigde seksuele drange is as oorsaak van histerie beskou en kon ook tot seksuele selfsorg (voorheen masturbasie) lei, is geglo. Seksuele selfsorg is ontmoedig omdat dit onkuis en “nie goed vir die gesondheid” was nie.
Histerie het veral onder maagde, jong weduwees of vroue van impotente mans voorgekom.
As jy histeries was, maar nie seks kon hê nie omdat jy ongetroud was of onbevredigende huwelikseks gehad het, is perdry, ritmiese bekkenbewegings of ’n rit in ’n koets, op ’n fiets of op ’n trein, aanbeveel.
Daar was dus ’n reuse hoeveelheid “siek” vroue. Niemand is ook ná die massering van hul vulva vir goed van simptome genees nie. Aan die ander kant het niemand ook aan hul simptome beswyk nie.
Medici het die rol wat die klitoris in orgasme speel, totaal misverstaan. Vroue wat nie orgasme tydens penetrasie kon kry nie, is as abnormaal of koud beskou. Tog was kouer vroue meer aanvaarbaar as dié wat ’n onversadigbare seksuele aptyt gehad het.
Histerie is eers in 1952 deur die Amerikaanse psigiatriese vereniging van die lys van psigiatriese siektes verwyder.

Vroulike seksualiteit: ’n terugblik
Vroulike orgasme was nie deel van die definisie van seks nie
Deur die geskiedenis het die algemene siening van vroulike seksualiteit voortdurend verander:
Terwyl daar in Hippokrates se tyd geglo is dat die uterus aandag kort, is dié deel van die vroulike anatomie in die Middeleeue verafgod. Toe is daar geglo dat vroue orgasme moes kry om bevrug te kon word. Die ontvangs van sperma het die plesier verskaf, het ’n paar Romeinse skrywers kwytgeraak.
Dr. Katherine Young, skrywer van Presence in the Flesh: The Body in Medicine, sê daar is ook geglo dat die verskille tussen manlike en vroulike liggame niks met fisieke bou te make gehad het nie. Die manlike liggaam was die “heel liggaam” wat lig, vurig, warm en droog was. Daarteenoor was die vroulike liggaam swaar, klam, koud en “saamgestel uit aarde en water”. Om bevrug te kon word, moes vroue dus eers opgewarm word; dit het orgasme beteken.
Die vagina is eintlik nes die man se penis, maar binnetoe gedraai, is daar geglo. En ook dat die man se uitwendige genitalieë oorspronklik deur hitte na buite sy liggaam geforseer is!
Met die Kopernikus-revolusie (1553) het wetenskaplikes gereken dat die aarde nie meer die middelpunt van die heelal was nie, eerder die son. Die bestaande kosmologie is daarom eerstens deur ’n wetenskaplike revolusie en tweedens deur ’n seksuele revolusie vernietig. Saam met die seksuele revolusie het ’n nuwe visie oor die (opkomende) middelklasvrou ontstaan. Haar liggaam, die sogenaamde “verkeerde” een, was foutief omdat dit uitgeskei het: Dit het gelek en gebloei en ander liggame (babas) uitgestoot.
In die 19de eeu het “kenners” weer gewonder of daar wel iets soos vroulike orgasme bestaan en of “ordentlike vroue” dit wel kry. In die laaste deel van daardie eeu het sommige geglo dat vroue géén seksuele passie het nie.
Die siening dat vroue die sogenaamde foutiewe liggaam gehad het, is ook in die Victoriaanse tyd (1837 tot 1901) aangehang. Die vroulike liggaam is toe as styf en ordentlik beskou en in kosette geforseer. Vroue is ook nie toegelaat om emosie te toon nie.
Die androsentriese model van seksualiteit wat in dié (Victoriaanse) tyd gegeld het, het ’n groot rol in die miskenning van vroulike seksualiteit gespeel. Seks was net seks indien penetrasie van ’n man se penis in ’n vrou se vagina tot manlike orgasme gelei het. Die vroulike orgasme was dus nie eens deel van die definisie van seks nie!
Eers in 1905 het Sigmund Freud, die bekende Oostenrykse psigoanalis, verkondig dat daar twee tipes orgasmes is: klitoraal en vaginaal.
In die 1940’s is die G-kol vir die eerste keer bestudeer. Maar nou sê die nuutste navorsing dat dié kol nie bestaan nie. Hierdie feit is onlangs by die kongres van die World Association of Sexology (WAS) in Brasilië bekendgemaak. Die seksuoloog Elmari Mulder Craig sê dat die meeste professionele seksuoloë in elk geval nie glo dat daar ’n onderskeid tussen die sogenaamde vaginale en klitorale orgasme bestaan nie. Dis eerder die klitoris wat veel dieper strek as wat voorheen geglo is.

Eers die vibrator, toe die stofsuier

Die eerste mediese vibrator
Omdat die masseertegniek as kuur vir histerie sedert Hippokrates se tyd ’n sekere vaardigheid en baie tyd geverg het en vir dokters moeë, pynlike vingers besorg het, was die koms van die vibrator besonder welkom. Behandeling is hierna binne net 10 minute afgehandel en dokters kon veel meer geld maak.
Getroude mans was nét so dankbaar, want vir baie van hulle was die stimulering van die klitoris ’n las, skryf dr. Rachel Maines in haar boek oor orgasme*. En vandag? Die ‘wham bam thank you ma’am’-mans is verreweg in die minderheid. ’n Man geniet juis seks wanneer hy sy maat kan bevredig, sê Elmari, die seksuoloog. “Die meeste mans het net nodig om te weet sy maat wíl met hom seks hê, dat sy dit geniet en dat hy haar kan bevredig.”
Reeds in die 5de eeu v.C. is bad in alle vorme in die Westerse wêreld met seksualiteit verbind, soos Romeinse baddens met prostitusie. In bad- en gesondheidsinstellings is verskillende meganiese stimuleerders, soos borsels, klitsertjies en apparate waarmee jy die lyf kon knie, ingespan, reeds so vroeg soos in die Renaissance-periode (rofweg 14de tot 17de eeu). In 1752 het Tobias Smollett oor water as kuur vir “menstruasieprobleme en histeriese versteurings” geskryf.
Die douche, oftewel die hoë-druk stort, is sedert 1829 as seksuele stimulant vir vroue, oftewel vir “vroulike klagtes”, beskryf. Baie spa’s het afdelings spesiaal vir vroue gehad.
In 1734 reeds het ene Abbé St. Pierre die meganiese voorloper van die vibrator ontwikkel. Dit is ’n trémoussoir genoem, maar min is oor die gebruik daarvan bekend.
Van die eerste vibrators het met slingers gewerk en effens skuins van die middel af (off-centre) gedraai. Dis vir kop-, rug- en ander masserings gebruik.
Teen 1869 is vibrators, soos die Manipulator, met stoom (deur kole opgewek) aangedryf. Vir histerie was dit baie tydrowend, het dokters gereken.
Die eerste elektromeganiese vibrator is in 1883 deur dr. Mortimer Granville ontdek. Dit was battery-aangedrewe (die battery was ’n groot draagbare een) en het uit verwyderbare toebehoorsels vir spesifieke liggaamsdele bestaan. Dit was bedoel vir die massering van manlike skeletspiere, maar is teen dr. Granville se wil ook deur vele dokters teen histerie aangewend.
Die androsentriese model van seksualiteit waarin vroulike orgasme/plesier nie genoem word nie, was toe nie meer geldig nie. Want nou kon vroue nie net een nie, maar veelduldige orgasmes kry.
Na die ontdekking van die elektriese gloeilamp in 1876, het dosyne modelle van elektriese mediese vibrators (tot en met 1890) die lig gesien. Van hulle (wat ook vir vulva-massering gebruik is) het op die vloer gestaan, sommige is opgehang en ander het met voetpedale gewerk.
Sommige vibrators, soos Die Chattanooga, was ongeveer 1,5 meter hoog en het die prys van ’n klein huis (toe sowat 2000 dollar) gekos.
Ná die koms van elektriese lig in 1876, is die naaimasjien in 1889 ontwikkel. Dis sowaar met suspisie bejeen omdat die voetpedaal vibrasies veroorsaak het wat saam met die geskuur van jou bobene teen mekaar, glo gesorg het vir seksuele plesier.
Binne tien jaar ná die naaimasjien het die waaier, ketel, braairooster en die elektriese tuisvibrator gevolg. Eers sowat nege jaar hierna kon vroue stofsuiers koop en nóg ’n jaar later, strykysters. (Hul prioriteite was reg!) Die elektriese braaipan het selfs nog later gekom.

‘Ek het nooit geweet ek het ’n klitoris nie’

Die verbruiker se vibrator
Die eerste advertensie vir ’n tuisvibrator, die Vibratile, waarop die Amerikaanse navorser dr. Rachel Maines afgekom het, is in 1899 geplaas. Dit is as kuur vir onder meer neuralgie (senupyn), hoofpyn en plooie aangebied. Hoewel vroue hierdie vibrator eerder as seksuele hulpmiddel kon inspan en wél ingespan het, is dié feit liefs verswyg.
Teen 1900 het vroue begin besef dat ’n vibrator ’n belegging is. Doktersbesoeke was duur en indien jy jou vibrator gereeld sou gebruik, sou dit hom- (of haar)self binne drie weke betaal. Tuisvibrators is diskreet per pos bestel en per trein of vragmotor vervoer.
Die draagbare soort was teen 1905 op die rakke. Van hulle het soos haardroërs of bore gelyk en het verskeie toebehore vir verskillende liggaamsdele gehad.
In die eerste twee dekades van die 20ste eeu was die wateraangedrewe vibrator ook op die mark. Dit kon aan die kombuis- of badkamerkraan gekoppel word. Elektriese masseerrollers, voorheen ’n “mediese instrument”, is ook geadverteer.
Elektriese vibrators (1906) kon in enige ligsok gedruk en in die privaatheid van jou kamer gebruik word, het dié advertensies gesê. Die mees geadverteerde tuisvibrator van die vroeg 20ste eeu (tussen 1902 en 1930) was juis die White cross elektriese vibrator. Dis as “Sweedse beweging (motion) in jou eie huis” geadverteer.
In die 1920’s het vibrators in erotiese films begin opduik en is dokters se gebruik daarvan vir intieme massering blootgelê.
Hierna het dié seksspeelding vir 40 jaar ondergronds gegaan. Daar is min gesê of geskryf daaroor. Eers in die sestigs is die vibrator openlik as sekshulpmiddel bemark.
Die Amerikaanse seksopvoerder dr. Betty Dodson vertel in die dokumentêr Passion and Power hoe dit gekom het dat sy in 1966 haar eie vibrator aangeskaf het: Haar kêrel het ’n Sweedse masseertoestel wat ’n haarkapper op sy kop gebruik het, aangeskaf en dit op haar borste en klitoris aangewend. Sy beskryf daardie orgasmes as “sinsbegogelend” (mind-blowing). Dr. Dodson was vas oortuig dat orgasmes vroue toegekom het, maar dat hulle dit toe weens gebrekkige inligting nie gekry het nie.
Om dieselfde rede het sy in die sewentigs Liberating Masturbation geskryf en die boek self uitgegee. Dr. Dodson het ook die eerste eenvrou-skou van erotiese kuns in New York gehou en boonop seksualiteitswerkwinkels begin. Sy wou hê dat vroue oor hul liggame moes praat en vry moes voel om seksuele selfsorg (masturbasie) toe te pas. Want toe was dit reeds duidelik dat vroue skaam was vir hul lywe en ook skuldgevoelens oor hul seksualiteit gehad het.
Dell Williams, ’n nou reeds bejaarde politieke aktivis van Amerika, sê dat sy een van dr. Dodson se werkswinkels bygewoon het nadat haar kêrel haar vertel het sy het ’n klitoris. “Ek het dit self nie geweet nie,” sê sy. Dell het later Eve’s Garden begin waar vroue seksueel bemagtig is. Sy het gevoel dat die onderdrukking van die vrou as seksuele wese eerder ’n politieke kwessie was en dat die bevryding van vroue hulle in staat sou stel om nie net seksueel nie, maar ook op ander gebiede wêrelde te kon vermag.

Onwettige vibrators
As jy in die Amerikaanse state Texas, Alabama, Georgia of Kansus woon, mag jy (steeds) nie meer as vyf vibrators besit nie, want dit kan beteken dat jy daarmee handel dryf. Dít terwyl daar wel met gewere en Viagra handel gedryf mag word!
Vibrators wat soos die ware Jakob lyk, mag weer nie in Japan verkoop word nie. Vandaar die hedendaagse soort wat diere-“gesiggies”, soos dié van hase of eende, het.
Joanne Webb, ’n oud-onderwyseres van Texas, vertel in die dokumentêr Passion and Power: The Technology of Orgasm dat sy aan die ontvangskant van Texas-wetgewing was. Sy het ’n saak van obseniteit teen haar gekry nadat sy vibrators by partytjies verkoop het. Nie sy of haar prokureur, BeAnn Sisemore, was van dié verbod bewus nie. Uiteindelik is die saak laat vaar “omdat dit die land se hulpbronne sou vermors het”. Mev. Webb mag ook nie weer onderwys gee nie. In 2004 is die Webbs boonop bankrot verklaar.
BeAnn vertel dat sy steeds “veg” om die persepsies rondom vroulike seksualiteit te help verander. Toe sy grootgeword het (sy is al vir 30 jaar ’n prokureur) is seks as “iets net vir die man” gesien, vertel sy. Daarby is enkellopende vroue in Texas selfs so onlangs soos 1974 verbied om hul eie geboortebeperkingspille te koop!
Dis dus g’n wonder nie dat die meeste egskeidings deur die jare en vandag toegeskryf word aan ’n gebrek aan seks en kommunikasie daaroor, reken BeAnn.

Die vibrator vandag
Die vibrator het deur die eeue ontwikkel tot die talle draagbare soorte waaruit ons vandag kan kies. Hulle is meestal van silikoon gemaak en koordloos.
Daar is dié met ’n buigbare kop (die Mystic Wand) wat ideaal is vir vaginale stimulering.
Dié met ’n knop aan die voorkant (die Gigi) kan jou klitoris en vaginale muur (waar die G-kol gesit hetm is voorheen geglo) gelyktydig stimuleer. Daar is ook die soort wat ’n gemaklike handvatsel aan die bokant en ’n kurwe aan die onderkant het (die Delight).
Die hasie (die Rabbit) se lyf het weer die vorm van ’n penis terwyl die haas-“gesiggie” aan die voorkant vir klitorisstimulasie sorg. Die Skoenlappersoen (Butterfly Kiss) het om dieselfde rede ’n skoenlappertjie aan die voorkant.
Die We-vibe lyk weer soos ’n kramdrukker. Dis een wat jy alleen én tydens penetrasie kan inspan.
Jy kry ook kleiner vibrators in die vorm van ’n koeël en die soort wat musiek kan maak (sowaar!) en gemaklik in jou broekie kan pas. Van hulle werk met afstandbeheer. Dink net aan die pret!
Ander kleintjies lyk soos blare, hulle word ook blaarvibrators genoem. Sommige kan inwendig gedra kan word.
Die vibrerende keël is ’n groter een waarop jy kan sit terwyl jou hele vaginale area gestimuleer word. Die boot doen dieselfde: Die geboë kop is vir interne stimulering terwyl die geribde voetstuk die uitwendige vaginale area en klitoris stimuleer.
As jy besonder diskreet wil wees, kan jy ’n vibrator aanskaf wat soos ’n lipstiffie of grimeerkwas lyk. Jy dra dit in jou handsak en niemand vra vrae nie. Die grimeerkwas sit natuurlik om ’n ander rede as gewoonlik ’n blos op jou wange!
Die rubbereend lyk weer soos ’n kinderspeelding en kan onder meer in die bad gebruik word.
Jou maat kan natuurlik in die pret deel: Die ringvibrator, wat met ’n ring om sy penis pas, kan julle albei gelyktydig stimuleer.
Nie net kan hy handjie bysit om jou met enige vibrator te stimuleer nie, jy kan op jou beurt sy penis, skrotum (“sak”) en perineum (die deel tussen sy skrotum na agter) daarmee stimuleer.

 

 

Vibrator-wenke en -waarskuwings
Wenke

* Onthou, dis nie jou maat se plig om vir jou orgasme te sorg nie. Span self jou belangrikste seksorgaan, jou brein, in en fokus op wat in jou lyf gebeur, sê Elmari, die seksuoloog.
* Om orgasme na te boots sodat jy nie jou maat se gevoelens seermaak nie, is nie ’n oplossing nie. As jy sukkel om orgasme te kry, wees eerlik daaroor. Dra net die boodkap op ’n sensitiewe manier oor. Tweedens moet jy besef dat jý, nes jou maat, daardie ontploffende orgasme verdien! Hy geniet seks inderdaad meer wanneer jy dit geniet.
* Jy hoef glad nie skaam te wees dat jy ’n vibrator gebruik nie. Jy is immers die enigste wese op aarde wat ’n orgaan, die klitoris, het wat uit sowat 8000 senu-eindpunte bestaan en uitsluitlik vir seksuele plesier geskep is. Waak egter daarteen dat jou kinders of iemand anders op jul vibrator afkom. “Dit gaan oor blote respek vir grense en privaatheid”, sê Elmari. ’n “Seksuele gereedskapskis” waarin julle al jul seksuele hulpmiddels en smeermiddels veilig, maar byderhand, kan bêre, is ’n goeie oplossing.

Waarskuwings:
* Pasop vir goedkoop Chinese vibrators waaarvan die materiaal nie altyd veilig is nie, waarsku Elmari.
* Higiëne is baie belangrik. Was jou vibrator met warm water en seep of in die skottelgoedwasser (nie saam met die skottelgoed nie). As jou vibrator met batterye werk, moenie daardie deel in water sit nie. Jy kan ook ontsmettingsmiddels spesiaal vir seksspeelgoed aanskaf.
* Die vibrator hoort nie elke keer die hooffokus in die liefdesspel te wees of seksuele plesier te vervang nie, maar hoort eerder jul verhouding te versterk.

Bronne:
Passion and Power: The Technology of Orgasm, ’n dokumentêr vervaardig deur Emiko Omori en Wendy Slick; *The Technology of Orgasm – “Hysteria,” the Vibrator and Women’s Sexual Satisfaction deur Rachel P. Maines (The John Hopkins University Press, Baltimore & London 1999); Die Aa tot Oe van seks (Tafelberg, 2013) deur Riette Rust, asook Elmari Mulder Craig, seksuoloog (sien ook elmaricraig.co.za).

Elmari specialises in the following:
  • Sexology
  • Individual Psychotherapy
  • Clinical Hypnotherapy
  • Sex therapy
  • Couples Therapy
  • Relationship/Marital Enrichment
  • Pre-marital Counselling
  • Conflict Resolution and Effective Communication Skills
  • Divorce Counselling
  • Trauma Counselling

 
The diagnoses and treatment of male and female sexual dysfunction, eg
  • Loss of sexual desire
  • Libido differences
  • Sexual Pain Disorders:
    Vaginismus,
    Dyspareunia,
    Vulvadinia ext
  • Inability to reach orgasm
  • Erectile dysfunction
  • Ejaculation control and timing
  • Sexual behaviour disorders
  • General Sexual Problems
  • Sexual Enrichment
CV